Sunday, August 15, 2010

Rapport: 'Dowe skone se lewe vat vlam'



In vandag se Rapport (SA) is daar op bl. 14 'n artikel oor my as Mej. Dowe SA. Om die artikel te lees en die foto te sien:

http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Dowe-skone-se-lewe-vat-eers-vlam-na-ongeluk-vlam-20100814]

Hier is die artikel:

DOWE SKONE SE LEWE VAT VLAM

Carryn-Ann Nel

Die dag toe sy geskiet is, het sy nooit die skoot hoor klap nie – sy het net die skielike brandpyn in haar skouer gevoel.

Want Vicki Fourie (21) leef nog altyd in ’n wêreld van algehele stilte. Sy is doof.

Maar die skietvoorval, op die tenger ouderdom van 14, het haar lewe verander. Sy leef sedertdien voluit.

Fourie is pas in Las Vegas gekroon as die tweede prinses in die eerste Mej. Dowe Internasionaal-kompetisie. Sy is ook Mej. Dowe Suid-Afrika.

Sy sê haar ouers het besef daar is fout toe sy op tweejarige ouderdom nog nie gepraat het nie. In ’n breinstamtoets is vasgestel sy het net sowat 3% gehoor.

Vicki is later by die Carel du Toit-skool ingeskryf waar sy geleer praat en liplees het.

“My ouers moes elke dag met my sit en my leer praat, ek kon dit nie net spontaan aanleer soos horende kinders nie. Dit het baie moeite en soms trane geverg.”

Toe kom die skietongeluk.

“Ek en my vriendinne was op ’n wildplaas en wou ’n foto neem waar een van die meisies ’n jaggeweer vashou. Dit het per ongeluk afgevuur en my in die linkerskouer getref. Ons het hospitaal toe gejaag, waar hulle x-straalfoto’s geneem het.

“Die dokter het daarna gekyk en gesê eintlik moes ek dood gewees het. Dit was ’n wonderwerk dat die koeël nie my hoofslagaar getref het nie.”

Vicki sê hierdie ervaring het haar hele lewensperspektief verander. “Ek het altyd gedink die lewe gaan oor my, oor wat ek wil hê. Maar toe het ek besluit om nie meer selfsugtig te wees en myself jammer te kry nie. Die lewe skuld jou niks nie. Dit is jou eie verantwoordelikheid om iets daarvan te maak.”

Vicki leef nou dié filosofie uit in haar loopbaan as deeltydse model, skrywer en motiveringspreker.

Sy vertel die meisies in die kompetisie in Las Vegas was almal nederig en het mekaar ondersteun. “Ek het al agtergekom meisies wat gehoorverlies het, of iemand wat in ’n rolstoel is of blind is, het ’n sagte gees. Ons gebrek maak ons nederig teenoor mekaar.”

Sy was verstom toe sy as tweede prinses gekroon is. “Die lewe maak soms snaakse draaie wat ’n mens verras.”

Sy maak tans reg om deel te neem aan die Mej. Dowe Wêreld-kompetisie, wat volgende jaar gaan plaasvind in Tsjeggië, Marokko of China.

“Ek aanvaar dinge maar soos dit kom en probeer om nie altyd te veel te beplan nie, want dan laat jy nie ruimte vir God om jou te verras nie.”


Vicki

2 comments:

Marti said...

Wat 'n pragtige, positiewe berig! Ek haal my hoed vir Vicki af. Dit is nie maklik nie - maar met so 'n uitkyk op die lewe, sal sy nog groot sukses behaal! Gods rykste seen vir hierdie pragtige kind!
Marti Beukes

VICKI FOURIE said...

Baie dankie, Marti. Ek waardeer die kommentaar en ondersteuning. Hou die LIG tydskrif dop in Oktober 2010 - daar gaan 'n artikel van my verskyn. Asook Desember 2010 se Sarie tydskrif - daar gaan ook 'n groot artikel daarin wees.
Vicki