Wednesday, August 4, 2010

Volksblad: 'Vicki Blink Uit Stad van Glans'



In vandag se Volksblad(4de Augustus 2010) is daar 'n artikel oor my besoek in Las Vegas waar ek deelgeneem het aan die Mej. Dowe Internasionaal 2010.

Hier is die artikel se link: http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Vicky-blink-uit-stad-van-glans-20100804

VICKI BLINK UIT STAD VAN GLANS

Earl Coetzee

Las Vegas, stad van blink liggies, dobbelary, dekadente leefstyle en...vuvuzelas?

Vreemd soos dit klink, was dit presies wat Vicki Fourie, Mej. Dowe Suid-Afrika, ondervind het toe sy in Las Vegas aan die Mej. Dowe Internasionaal-kompetisie deelgeneem het en as tweede prinses gekroon is.

Die “trotse Bloemfonteiner” het gister in ’n onderhoud met Volksblad vertel oor haar ervaringe tydens die kompetisie en hoe geskok sy was toe sy besef het daar word in die Bally’s Hotel, waar die kroningsplegtigheid gehou is, vuvuzelas geblaas.

Sy het haar dadelik teruggehaas na haar kamer om seker te maak iemand het nie dalk haar vuvuzela gesteel wat sy saamgeneem het om ’n Suid-Afrikaanse geur aan haar uitrusting te verleen nie.

Dit was toe ’n klomp mense, steeds vasgevang in die gees van die Wêreldbeker-sokkertoernooi, wat hul vuvuzelas laat raas het.

Sy het Suid-Afrika twee weke gelede in die kompetisie verteenwoordig en buiten die versengende hitte, het die kompetisie net goeie herinneringe opgelewer.

Sy het ses maande voor die kompetisie reeds begin voorberei vir die kompetisie, want “80% van die kompetisie is net voorbereiding,” sê sy. “Toe ek uiteindelik daar aankom, kon ek net ontspan en dit geniet.”

Sy vertel sy het baie goeie bevriend geraak met die uiteindelike wenner, Julie Abbou van Frankryk. Sy en Abbou het goed oor die weg gekom omdat hulle van die min deelnemers was wat ook in Engels kon kommunikeer en lippe lees, sowel as praat.

Vicky sê dat almal doof was en in gebaretaal gekommunikeer het, het ook snaakse oomblikke opgelewer, omdat verskillende dialekte wêreldwyd gebruik word.

Sy het byvoorbeeld besef die Suid-Afrikaanse gebaar vir “toilet” is in die Amerikaanse dialek, wat deur die meeste deelnemers gebruik is, die gebaar vir “naam”.

“Toe ons onsself aan mekaar voorstel, het ek gewonder hoekom almal skielik toilet toe wil gaan. Gelukkig het ek gou besef wat gaan aan.”

Vicky was in ’n skool vir horendes, maar het self besluit om ook gebaretaal te leer, sodat sy met ander dowes kan kommunikeer. Sy het 97%-gehoorverlies, wat met haar gehoorapparaat verminder word tot ongeveer 50%.

Nadat sy die verskillende gebare wat in die Amerikaanse dialek gebruik word, geleer het, het sy gou met die res van die skoonhede vriende gemaak.

“Dit was vir my regtig wonderlik. Almal het elke dag vir mekaar drukkies gegee en jy kon sien niemand is ’n tweegesig nie. Niemand was katterig nie, en ons het regtig vir mekaar omgegee.”

Die 21-jarige Vicky is verlede jaar as Mej. Dowe Suid-Afrika gekroon en sedertdien is haar lewe ’n dolle jaagtog.

Haar sukses in die afgelope kompetisie beteken ook glad nie sy kan nou terugsit nie.

Die skoonheid is reeds weer besig om voor te berei vir die volgende Mej. Dowe Wêreld, wat volgende jaar gehou word.

Sy oefen ook vir die Reik na ’n Droom-stigting se jaarlikse Dance for a Dream-kompetisie.

Verder tree sy as gasspreker op en werk sy aan ’n boek, nadat ’n uitgewer haar met ’n aanbod genader het.

“Ek is mal oor skryf en wou dit nog altyd vir ’n lewe doen. Ek sal graag eendag ook wil universiteit toe gaan, maar nou sal dit eers moet wag, totdat ek klaar is met alles waarmee ek nou besig is.”

Aan ander dowes sê Vicky: “Onthou die wêreld skuld jou niks. Dit is jou verantwoordelikheid om iets van jou lewe te maak.”

Die sprankelende meisie wil ook graag sien dat horendes vriendeliker met dowe mense is.


Vicki

No comments: