Monday, December 20, 2010

SARIE: 'Met 'n Doel en Drome'


In die nuutse uitgawe van SARIE (SA) se Januarie 2011 uitgawe, is daar 'n pragtige artikel met splinternuwe fotos van my. Die artikel se naam is 'Met 'n Doel en Drome', en dit is op bl. 158.

Baie dankie aan SARIE vir hierdie wonderlike geleentheid om my storie van hoop te versprei onder die Afrikaanse lesers.

SARIE se website: http://www.sarie.com/

'n Stukkie van die artikel:

Dapperheid is nie 'n geskenk nie. Dit is 'n keuse.

Hierdie woorde – haar lewensleuse – het nog altyd gewerk vir Vicki Fourie (21) van Bloemfontein, reeds vandat sy as vasberade dowe sesjarige in ’n Engelse “horende” skool op Worcester ingeskryf is – en alle skeptici verkeerd bewys het.
Toe Vicki in 2009 as Mej. Dowe SA aangewys is, het sy sélf borge gewerf om na Las Vegas te gaan vir Mej. Dowe Internasionaal. En op 23 Julie is sy as tweede prinses gekroon. Nou is sy weer hard aan die voorberei (sy oefen onder meer ’n dans-item) vir Mej. Dowe Wêreld, wat in Julie aanstaande jaar vir die elfde keer gehou word.


Ek glo nog altyd daar is ’n doel met my doofheid. God maak mos nie foute nie. Hy het my al so ver gebring en Hy gaan my vir die res van die lewe nog net verder neem.
Op skool het ek soms gevoel dat mense op my neersien. Ek het normaal gefunksioneer, ten spyte van my gehoorprobleem. Ek het ballet gedoen (en die trillings van die musiek op die vloer ‘gehoor’), dramaklasse geneem en kreatief geskryf. En steeds het mense gedink ek sal dit nie ‘maak’ in die ‘horende’ wêreld nie. Ek dra gehoorapparate in albei ore. Die tegnologie raak net ál beter. Ek kan 50% hoor in albei ore, maar daarsonder is ek heeltemal doof.
My familie het my nooit laat voel ek is ‘anders’ nie. Baie mense was gekant daarteen toe my ouers my in ’n Engelse skool gesit het. Ons huistaal is Afrikaans. Hulle het gedink dis malligheid. Maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Ek het in 2007 gematrikuleer in Engels en Afrikaans. Engels is eintlik my sterkste taal.
Pleks van te vra: ‘Hoe groot is die probleem?’ moet jy vra: ‘Hoe groot is my God?’ Ek is dankbaar my ouers het my gedruk om te funksioneer in die ‘horende’ wêreld. Ek het ook ’n sussie, Zoë (19), wat nou onderwys aan Kovsies studeer, en ’n kleinboet, Gerhard (16).
My naam beteken victorious. En as dit soms swaar gegaan het op hoërskool, het ek nie soos ’n slagoffer gevoel nie. Ek het my net nie gesteur aan mense wat my nie gelyk aan hulle ag nie. Ek bedoel, wat doen jy nou as mense deesdae vir jou vra: ‘Kan jy motor bestuur?’ Daar is selfs statistieke wat bewys mense met gehoorverlies bestuur eintlik beter, want daar is nie so baie afleidings soos ’n toe-ter en selfone wat lui nie . . . Nee wat, ek mors nie my energie op sulke mense nie!
Daar was gelukkig al genoeg mense wat my ondersteun het, en jy leer onderskei wie se opinie is werklik belangrik. Daar sal maar altyd mense wees wat ‘klein’ dink en jy kry hulle eintlik jammer, want hulle kry swaarder as ek. Wanneer jy jouself beperk, kan jy nie groot droom nie.
Die sleutel is om jouself te omring van mense wat nog groter droom as jy. Hulle sal jou altyd help op pad boontoe. Ons het almal eintlik ’n sterk oorlewingsinstink en ons kan leer om die beste van ons situasie te maak. Daar is sommige mense wat hulself bejammer, maar dit gaan jou nie ver bring nie. Hou op kla, ons het die geskenk van die lewe en jou gestremdheid is eintlik baie klein in vergelyking daarmee...


Gaan koop gerus die nuutse SARIE om verder te lees!

Geseende Kersfees en voorspoedige Nuwe 2011 Jaar.

Vicki

No comments: