Saturday, February 5, 2011

Ditsem Vrystaat se Voorentoe Met Vicki: 'Hy Het Jou By Jou Naam Geroep!'


In die Februarie 2011 uitgawe van Ditsem Vrystaat (BFN), word my maandelikse rubriek - Voorentoe Met Vicki - gepubliseer.

In hierdie uitgawe is my artikel 'Hy Het Jou By Jou Naam Geroep!' gepubliseer op bl. 7. Lees dit gerus as jy die Ditsem Vrystaat verniet kry!

Hier is 'n proeisel van die artikel:

“Moenie my ‘dominee’ noem nie. Nie eers ‘pastoor’ of ‘meneer’ nie. Roep my by my naam,” het hy vir my gesê. Ek was uiters verbaas en heeltemal verstom. Mense is gewoonlik trots op hul titel. Veral dokters en professors...

“Hoekom nie?” het ek hom gevra. “Hoekom moet ek jou ‘Dirk’ noem en nie ‘Dominee’ nie?”

“Kom ek vertel jou ‘n storie,” het hy gesê. Ek en hy het gaan sit, en skielik was ek baie nuuskierig. Hierdie man is getroud en hy het ‘n kind, en dit sal eintlik as beskof beskou word as ek hom by sy eerste naam noem... Of hoe?

Hy begin toe met die storie. “’n Paar jaar terug was daar ‘n man in my gemeente. Almal het hom gespot oor iets, en later het hy ‘n bynaam gekry daarvoor. Niemand het hom meer by sy naam geroep nie. Ek het gedink dit is oraait om hom ook te roep by sy bynaam. Dit het nie gelyk asof dit hom gepla het nie.

Een Sondag roep ek hom weer by sy bynaam. Hy het omgedraai en geantwoord, “Weet jy wat? Die Here, die Een wat die aarde geskep het, die een wat almagtig is, het my by my NAAM geroep. Hy het my geroep by my naam. God het nie ‘n bynaam vir my nie. Ek sal daarvan hou as almal my roep by my naam. Kan jy ook asseblief dieselfde doen?”

Dirk het my ernestig gekyk, “Vir die eerste keer in my lewe was ek skaam..."


Lekker lees!!

Vicki

No comments: