Thursday, May 19, 2011

Volksblad: 'Bfn-Skrywer Sterf In Motorongeluk'

In vandag se Volksblad voorblad nuus: Christa Jonker-Jordaan, skryfster van die bekende Chilli Lipstiek boeke, is gister oorlede na 'n motor ongeluk. Sy het talle tieners se lewens aangeraak... Myne ook. Dit was 'n voorreg dat sy my lewensverhaal gebruik het in een van haar Chilli Lipstiek verhale.

Om die artikel te lees: http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Bfn-skrywer-sterf-in-motorongeluk-20110518

Hier is die berig wat in die koerant plaasgevind het:

Bfn-skrywer sterf in motorongeluk
Jana van der Merwe

Die dood van ’n Bloemfonteinse skrywer gister in ’n motorongeluk op pad na George is met ongeloof in die stad begroet.

’n Foto van mev. Christa Jonker-Jordaan (54) het nog gister in Volksblad verskyn waar sy eergister ’n boekbekendstelling bygewoon het.

Sy en haar man, prof. Gerrit Jordaan (60), was op pad na George vir die geboorte van hul derde kleinkind toe die ongeluk gebeur het. Sy is vermoedelik op slag dood.

Prof. Jordaan is gisteraand met ’n beseerde been per helikopter van die hospitaal op Beaufort-Wes na die Life-Rosepark-hospitaal in Bloemfontein gebring.

Hy is die direkteur van tegnologie en innovasie aan die Sentrale Universiteit vir Tegnolgie (SUT) in Bloemfontein.

Jonker-Jordaan se jongste dogter, Madelie van Bloemfontein, kon gister nie bevestig presies waar of hoe laat die ongeluk met hul silwer Citroën C5 gebeur het nie.

“Dit is alles nog baie duister,” het sy gesê. “Moet my nou nie eers vra hoe laat hulle my laat weet het nie. Ek weet nie,” het sy gesê.

Sy sê haar ouers was op pad na George waar haar oudste broer, Johan, en sy vrou, Lelanie, vandag hul eersteling, ’n dogtertjie, verwag.

Dit sou dié ouma se derde kleinkind wees.

Gister was ook hul oudste dogter, Tania, se verjaardag.

Tania en haar man, Werner, bly ook op George. Hulle het twee dogtertjies.

Die egpaar se vierde kind, Lourens, bly ook in Bloemfontein.

Me. Amelia Mostert, Jonker-Jordaan se susterskind, sê haar tannie was ’n “vrolike, vriendelike mens wat mense nie anders kon as om van te hou nie”.

“Haar huis was altyd oop vir almal. Sy was so ’n ou sterretjie. As sy jou gebel het, het sy altyd gesê: ‘Hallo my skatjie.’ Ons kan dit self amper nog nie glo nie.”

Mostert het ook gesê die besonderhede van die ongeluk is nog baie vaag. Sy het slegs verneem haar oom is eers na ’n hospitaal op Beaufort-Wes gebring, waarvandaan hy na Bloemfontein oorgeplaas is.

Me. Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV), sê Jonker-Jordaan was ’n geesdriftige BSV-lid en die afgelope drie jaar ook ’n bestuurslid.
Met boeke soos My Valentyn dwarsdeur die jaar, ’n Ma is spesiaal en Ouderdom is nie vir sissies nie, was sy ’n gevestigde skrywer.

Haar jeug-omnibusse, Chilli-Lipstiek 1 (vierde druk) en Chilli-Lipstiek 2, wat einde verlede jaar verskyn het, was veral suksesvol.

“’n Mens kon nie anders as om vir haar lief te wees nie – ’n méns-mens as daar al ooit een was. Ek weet nie hoe gaan ons as bestuur môreaand bymekaar kom nie.”

- Volksblad


Ons gaan jou mis, tannie Christa!

Vicki

No comments: