Friday, May 20, 2011

Volksblad: 'Kleinkind Kom Dag Na Vrou Se Dood'

Op die voorblad van Volksblad se koerant, is daar 'n opvolg berig en nuus oor die bekende jeugskryfster, Christa Jonker-Jordaan, wat hierdie week oorlede is na 'n ongeluk. Sy het die bekende boeke van Chilli Lipstiek geskryf (waarvan een van daardie verhale my verhaal was, Spieel).

Om die artikel te lees op volksblad.com, copy en paste die volgende link in jou search bar: http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Kleinkind-kom-dag-na-Ouma-sterf-20110519

Hier is die berig:

KLEINKIND KOM DAG NA VROU SE ONGELUK

Jana van der Merwe

Minder as 24 uur nadat ’n Bloemfonteinse skrywer in ’n motorongeluk op pad na George gesterf het, is haar nuwe kleinkind gisteroggend in dié Suid-Kaapse stad gebore.

Mev. Christa Jonker-Jordaan (54) is eergister in ’n ongeluk buite Drie Susters dood.

Sy en haar man, prof. Gerrit Jordaan (60), was op pad na George om die koms van haar oudste seun, Johan, en sy vrou, Lelanie, se eersteling mee te maak.

Familie sê die egpaar se dogtertjie, Vida, is gister omstreeks 08:30 gebore.

Me. Esmarie Cronjé, woordvoerder van die Life-Rosepark-hospitaal in Bloemfontein, het gister gesê die beseerde prof. Jordaan is in ’n stabiele, bevredigende toestand.

Hy het ’n operasie aan sy linker-onderbeen ondergaan.

Hy is baie hartseer oor sy vrou se dood.

Kol. Hendrik Swart, Noord-Kaapse polisiewoorder, het gesê die egpaar se motor het kort voor 11:00 eergister sowat 6km buite Drie Susters die pad verlaat en omgeslaan.

Jonker-Jordaan se laaste inskrywing op Facebook was dat sy ook opgewonde is omdat sy haar oudste dogter, mev. Tania Mollentze, wat ook in George woon, se verjaardag die eerste keer in ’n lang tyd sou bywoon.

Mollentze het gister haar 34ste verjaardag gevier.

Medelye vir die familie het gister op Facebook en op Volksblad se webtuiste ingestroom.

Sy is as ’n dierbare sonskyn-vrou beskryf wat talle mense se lewe aangeraak het.

Me. Leani Jansen van Vuuren, van Carpe Diem Media, het in ’n huldeblyk Jonker-Jordaan as een van dié uitgewer se mees suksesvolle skrywers beskryf.

“Haar boeke het duisende mense, veral vroue en tieners, se lewe aangeraak.

“Christa se afsterwe los nie net ’n leemte in die boekbedryf nie, maar ook in elkeen se lewe wat deur haar boeke geïnspireer is.”

Jonker-Jordaan se eerste tienerboek, Lyf, het in 2008 die ATKV-Woordveertjieprys verower – “’n ongelooflike prestasie vir ’n skrywer wat nog redelik nuut in die bedryf is”.

Haar eerste roman, nóg geskenkboeke en twee trefferjeugboeke het gevolg.

Jonker-Jordaan was ten tyde van haar dood besig om te werk aan Chilli-lipstiek 3 wat gegrond is op drie bekendes se ware tienerverhale.

Suster Karen Jansen, van die Aerocare-lugambulansdiens in Bloemfontein, sê prof. Jordaan is, anders as voorheen berig, deur dié diens van die hospitaal in Victoria-Wes met ’n King Air 200-vliegtuig na die Life-Rosepark-hospitaal gebring en nie per helikopter van Beaufort-Wes af nie.

- Volksblad


Vicki

No comments: