Friday, September 23, 2011

Pasella: Charlene Lackay Skryf Oor Vicki Fourie

Charlene - Pasella se puik aanbiedster wat die onderhoud met my gevoer het - het 'n pragtige storie geskryf oor haar besoek aan Bloemfontein & hoe sy my ervaar het as mens. Lees tog hierdie artikel - dit maak my skoon opgewonde oor volgende week se Pasella - ek gaan daarop verskyn! Wat 'n voorreg!

Hier is die link na die blog wat sy geskryf het:

http://www.pasella.com/aanbieders/aanbieders-profiel.php?aanbieder=Charlene-Lackay

Hier is die volle artikel:

Vicki Fourie
23 September 2011 (11:14:17)

Bloemfontein was die laaste stop in ‘n weeklange besoek aan die Vrystaat. So aantreklik soos wat ek die vlaktes daar vind, was die wind toe al effens uit ons seile. Teen dag sewe begin ‘n mens onvermydelik verlang na die belaglikste goed wat ‘huis’ vergestalt: daardie spesiale koffiekoppie met die gesiggies van jou peetkinders op, die deurmatjie, die badkamerdeur wat geswel van die wintervog nie heeltemal toemaak nie.

Maar om met ‘n sonnige persoonlikheid soos die voormalige Mej. Dowe Suid-Afrika, Vicki Fourie te skiet, maak korte mette van jou reisuitputting. ‘n Mens kan heeltemal verstaan hoekom haar dagboek so vol bespreek is. Daar steek ‘n goeie skoot waarheid in die persepsie dat mense en dinge vir televisie hul beste voetjie voorsit, en beter lyk as wat hulle normaalweg is. Op TV lyk almal pragtig en vriendelik en elke dorpie lyk soos ‘n toeristebestemming. Maar as ‘n mens ‘n dag lank met iemand spandeer, kunsvlyt doen in die bakkende son en met hoëhakskoene en al ‘n halfdosynmaal op mallemeules klim totdat die skoot reg is, soos wat ek met Vicki moes doen, kom jy gewoonlik vinnig agter die kap van die byl. Julle kan egter gerus wees liewe kykers. Ons pragtige, blonde gas was regtig so wonderlik soos wat julle haar in die program gaan beleef.

Daarbenewens was sy ‘n Bloemfonteiner. Nadat ek ‘n paar weke vantevore die Kovsies Sêrkompetisie-uitdunne beoordeel het, kon ek die volgende as slagspreuk vir Bloemfonteiners teenoor gaste bevestig: “Eet nog ‘n bietjie, drink nog ‘n bietjie, bly nog ‘n bietjie.”

Vicki se storie is inspirerend om die minste te sê. Wat wonderlik was om te sien, is die ondersteuning wat sy van haar familie kry. Deur die loop van die verfilming het haar jongste sussie kom inloer, en ma het deurentyd bygestaan met ‘n bemoedigende glimlag én om seker te maak elke haar bly in plek. Vicki se boodskap dat ‘n mens elke struikelblok kan oorkom, is nie net woorde nie. Sy lééf dit elke dag. Hoe, moet julle maar in die program uitvind.

Een van die aangrypendste oomblikke tydens die verfilming was die kort orreluitvoering wat Jan Elsenaar, orrelis en orrelrestoureerder, in die NGK gelewer het. Ek is dit met Elsenaar eens dat die orrel die meester van alle instrumente is. ‘n Universiteitsvriend wat orrel as hoofinstrument geneem het en nie vreeslik spraaksaam was nie, het altyd gesê hy vind dit onnodig om te praat as jy so ‘n instrument tot jou diens het want as die orrel praat, móét almal in elk geval luister.

‘n Herinnering uit my kinderdae wat ek koester is my pa se gewoonte om op Sondae oggende Edward Elgar te speel terwyl die res van ons nog ‘n laaste slapie wou vang. Hy het net die een orrellangspeelplaat besit en dit so gereeld gespeel dat jy Elgar se Nimrod later uit jou kop geken het. Ek was dus baie opgewonde om die virtuositeit van ‘n orrelis soos Elsenaar te beleef saam met iemand soos Vicki wat die musiek letterlik in haar lyf voel bruis. Omdat sy nie kan hoor nie, leef die musiek deur die vibrasies van dinge om haar soos die houtkerkbank waarop ons die onderhoud gevoer het. Ek was versigtig om haar te vra oor die uitdagings daarvan om nie te kan hoor nie. Die grasie en openlikheid waarmee sy dit hanteer het, het my laat besef die ongemak wat ons het oor sensitiewe dinge, is meestal ons eie probleem.

Nou het ek nog net een vraag: “Vicki, kan ons jou inpak en saamvat vir daardie vieslike, laaste dag van ‘n reis?”


Vicki

No comments: