Friday, September 23, 2011

Pasella - SPAN: Dapper Vicki

Lees meer oor my kuiertjie saam met die wonderlike Pasella span, veral Liebe Calitz. Die onderhoud gaan volgende week - Woensdag de 28ste September om 19:30 - uitgesaai word. Moenie dit misloop nie!!

Hier is die volle link - jy kan ook 'behind-the-scenes' fotos sien:

http://www.pasella.com/artikels/SPAN-Dapper-Vicki.html?articleID=745

Die volle artikel:

SPAN: Dapper Vicki
Die beeldskone Vicki het in 2009 die plaaslike kroon gedra en in Julie vanjaar het sy ook aan die Mej Dowe Wêreld-kompetisie deelgeneem.

Haar deelname aan die kompetisies het haar lewe onherroeplik verander en deesdae is sy ‘n publieke figuur en rolmodel vir baie jonges. Sy tree gereeld by skole op met verskillende motiveringsboodskappe vir die kinders.

Ander mag haar gehoorverlies dalk as ‘n gebrek sien, maar die 22-jarige skoonheid laat haar nie onderkry nie. Sy is al van 2 af doof, maar het matriek aan ‘n normale privaatskool geskryf. Met behulp van die gehoorapparate in albei haar ore kan sy 50 – 60 persent hoor en sy liplees soos ‘n sneltrein en gebruik nie eers gebaretaal nie.

Tydens haar deelname aan Mej Dowe Wêreld-kompetisie in Praag het sy sowaar ook ‘n rol in ‘n internasionale fliek losgeslaan. Sy mag nog nie te veel daarvan verklap nie, maar die verfilming van die fliek begin later vanjaar in Amerika en sy gaan teenoor ‘n Oscar-bekroonde aktrise speel.

Een van Vicki se gunsteling-ontspanplekke is die Oliewenhuis-kunsmuseum met sy uitgebreide tuine en restaurant, The Terrace. Dis juis hier waar Charlene en sy kuier voordat hulle na die Afrika-Mallemeule gaan kyk. ‘n Slim projek van die museum om kuns interaktief en prêt te maak - volbloed-beeldhouwerke word gebruik as die perdjies waarop ‘n mens by die mallemeule kan ry. Elke kunswerk is boonop gebaseer op ‘n eg inheemse Suid-Afrikaanse storie.

Die museum is ‘n satelliet van die Bloemfontein Nasionale Museum en het ‘n permanente versameling van meer as 1600 skilderye in die hoofgebou, terwyl 15 tot 20 uitstallings per jaar gehou word. In die agtertuin is ook ‘n beeldhoupark met sewentien werke deur plaaslike kunstenaars. Die museum bied ook gereeld kunsklasse aan en dis juis wat volgende op Vicki se doen-lysie vir Charlene is.

Elize Kruis wys hulle hoe om ‘n onkonvensionele “skildery” te maak. Sy demonstreer die decoupage-proses van uitgeknipte servetblomme en gee verder die twee dames vrye teuels met verf.

Vicki vertel verder dat sy mal is oor skryf en dat sy besig is om haar memoirs in boekvorm neer te pen. Sy hoop om dit teen 2012 op die rak te hê. Sy skryf ook vir ‘n hele aantal tydskrifte en aanlynpublikasies en noem dit haar groot liefde. Naas skryf is daar ook ballet en musiek en was sy as klein dogtertjie mal oor ballet. Hoewel sy nie die musiek volledig kon hoor nie, kon sy die ritme deur die vloer aanvoel.

Vicki neem Charlene na die NG Kerk Langenhovenpark wat met ‘n besonderse orrel spog. Hoewel ‘n klomp klanke vir Vicki soos een groot geraas klink, kan sy ‘n enkel instrument soos hierdie se vibrasies deur die houtkerkbanke voel. Die plaaslike orrelbouer en internasionaal gerekende orrelis, Jan Elsenaar, bederf hulle met ‘n paar uitsonderlike musiekstukke en Charlene en Vicki klets lekker tussendeur.

Daar is wel dinge wat sy nie self kan behartig nie, soos om op ‘n telefoon te praat of na die radio te luister. Maar sy sê dis goed waarmee jy moet vrede maak en onthou dat jy sterker as jou omstandighede is.

Diere is Vicki se hart se punt en daarom ry hulle ‘n entjie na Maselspoort se kant toe om in te loer by Bagamoya Wildlife Estate. Die wildreservaat is in 2002 deur Vicki se oom en tannie gestig en is net meer as ‘n jaar vir die publiek oop. Behalwe vir 27 leeus van verskillende ouderdomme, is hier op die res van die 400 hektaar ook ‘n verskeidenheid wild soos kameelperde, seekoeie en swart wildebeeste te sien. Die reservaat bied wildritte aan en daar is ook verblyf beskikbaar.

Bagamoya beteken juis skuilplek van die leeu en nadat die welpies vir 3 – 5 jaar as familiediere in die huis versorg is, word hulle in ruim kampe vrygelaat.

Vicki glo nie verniet dat haar naam, in plaas van Victoria, afgelei is van “victorious”, oftewel oorwinning nie. En as julle wonder wat doen sy nog? Sy neem perdrylesse, draf en hou van Chinese kos – net soos enigeen van ons.


Moenie Pasella misloop volgende week nie!!

Vicki

No comments: