Wednesday, September 28, 2011

Volksblad: 'Een Van Rosestad Se Blinkste Sterre'

Ek is weereens in die Volksblad! Op bl. 8 staan daar 'Een Van Rosestad Se Blinkste Sterre' en daar is twee fotos bygesit wat geneem was tydens my Pasella onderhoud.

In die berig gesels ek oor my Cosmopolitan SA toekening & ek deel oor my ervaring saam met die Pasella Span.

Om die artikel te lees, copy & paste die volgende link in jou search bar:

http://www.volksblad.com/Vermaak/Nuus/Een-van-Rosestad-se-blinkste-sterre-20110927

Hier is die volle berig:

EEN VAN ROSESTAD SE BLINKSTE STERRE
MADELEINE OOSTHUIZEN

MOTIVERINGSPREKER en die voormalige Mej. DoweSA van Bloemfontein, Vicki Fourie, laat nie gras onder haar voete groei nie.

Die 22-jarige blondekop is as een van die 25 wenners van die tydskrif Cosmopolitan se Fun, Fearless, Female Awards 2011 aangewys en is die enigste Vrystater wat met hierdie eer kan spog.

Die kersie op die Cosmo-koek is egter dat sy in die Desember-uitgawe van hierdie gewilde vroue-tydskrif verskyn, saam met 24 ander inspirerende vroue van oor die land heen.

Hierdie toekennings gee erkenning aan vroue wat uitsonderlike prestasies in hul spesifieke velde behaal. “Dis nie regtig ’n kompetisie nie, maar eerder ’n viering van vroue wat ongelooflike dinge in die wêreld doen. Dis ’n jaarlikse spesiale artikel oor merkwaardige, bedrewe en inspirerende vroue,” luidens ’n brief van Cosmopolitan.

“Dit is ’n groot eer dat hulle my gekies het. Hulle het spesifiek gekyk na die werk wat ek as motiveringspreker en aktivis vir dowe mense doen.

“Ek is baie trots op myself, veral omdat ek die enigste Vrystater is wat die cut gemaak het!” vertel Vicky opgewonde.

Dit is egter nie al nuus waaroor hierdie jong vrou met reg trots en opgewonde is nie.

Sy verskyn vanaand in die gewilde joernaalprogram Pasella.

In haar onderhoud met die Pasella-aanbieder Charlene Lackay (voorheen Truter) spog sy ook met wat haar tuisstad Bloemfontein het om te bied en die Vrystaatse skoonheid.

Die span het onder meer die Oliewenhuis-kunsmuseum, die Bagamoya Wildlife Estate by Maselspoort en die NG kerk Langenhovenpark besoek.

“Ek het voorwaar gespog met Bloemfontein!” vertel Vicki trots.

Tydens die verfilming het Elize Kruis vir Vicki en Charlene by Oliewenhuis gewys hoe om ’n ongewone “skildery” te maak. Hulle het hul kreatiwiteit omtrent uitgeleef met decoupage en die verf van servetblomme.

Hulle het ook die besonderse orrel van die NG kerk Langenhovenpark gaan bewonder en hoewel ’n klomp klanke vir Vicki na ’n geraas klink, kan sy ’n enkele instrument soos ’n orrel se vibrasies deur die kerkbanke voel. Die plaaslike orrelbouer en wêreldbekende orrelis Jan Elsenaar het hulle op ’n paar liedere getrakteer.

Die Pasella-span het ook besoek gebring aan die Bagamoya Wildlife Estate wat deur Vicki se oom en tannie gestig is.

Hier is ’n verskeidenheid wildspesies en ook 27 leeus en die publiek is welkom om besoek te bring aan hierdie 400hektaar grootte lushof wat spog met kameelperde, seekoeie en talle bokspesies. Bagamoya beteken skuilplek van die leeu.

Die program was “’n fantastiese ervaring!” vertel Vicki.

“Die hele span was ongelooflik – Liebe Calitz, die regisseur, was kreatief en flexible. Die kameraman, Pierre van Heerden, was hartlik en hy het baie mooi behind the scenes-foto’s geneem so tussenin. Die klankman, Lucky, was snaaks.

“Charlene het my ‘afgerig’ en tips gegee – ek wil ook graag eendag ’n aanbieder word (dalk van my eie program?).

“So tussen die shoots het ek vir haar baie vrae gevra oor haar werk, en sy het ook gesê dat een van die wanbegrippe wat die meeste mense het, is dat om ’n aanbieder te wees baie glamorous is. Dit is eintlik presies die teenoorgestelde...

“En ek het dit gou agtergekom ná twee dae se shoots!”

Daar was gedurig onderbrekings terwyl ons op kamera was – by Oliewenhuis was daar helikopters wat aanmekaar oor ons koppe gevlieg het. Die alarms het oral afgegaan. Daar was kinders wat gespeel en geraas het. So al hierdie dinge het beteken dat ’n mens die tonele oor en oor moes doen totdat dit perfek is. Dit verg baie dissipline en geduld. Maar ons het dit reggekry! Dit was ’n uiters lekker ervaring,” kloek Vicki wat ná vanaand waarskynlik landwyd bekend sal wees. Maar sy weet waar haar wortels lê, sterk geanker in die Vrystaatse grond. )Pasella wys vandag om 19:30 op SABC2.)Kontak Vicki by vicki@247mail.co.za.

- Volksblad


Onthou om Pasella vanaand op SABC 2 te kyk! Moenie dit misloop nie!

Vicki

No comments: