Monday, September 12, 2011

Volksblad: 'Sms Vriendskap Lei Tot Ontmoeting'

Verlede Saterdag was daar 'n artikel in die Volksblad i.v.m. my Prieska optrede. Ek het nie eers geweet nie!

Copy & paste die volgende link in jou search bar om die artikel aanlyn te lees:
http://www.volksblad.com/Vermaak/Nuus/SMS-vriendskap-lei-tot-ontmoeting-20110909

Hier is die volle artikel:

PRIESKA. – Ná drie jaar was die opgewondenheid groot toe ’n egpaar van dié dorp uiteindelik hul “dogter” ontmoet het.

Mnr. Arno en mev. Anna Taljaard het reeds sedert 2008 ’n SMS-vriendskap met Vicki Fourie, Dowe Mej. Suid-Afrika 2009-’10. Ná ’n koerantberiggie oor haar deelname aan dié kompetisie, het hulle haar per SMS begin aanmoedig. Vicki het ook gereeld van haar laat hoor en uiteindelik is ’n hegte vriendskap op hierdie manier gevorm.

Vicki het egter nie net die Taljaards se harte nie, maar ook sommer ’n groot klomp harte op Prieska gesteel. “Ek het nie geweet daar is ’n plek soos Prieska voordat ek hierheen genooi is nie!” lag sy. “Ek is aangenaam verras. Die natuur is so ongerep dat ek skoon bedorwe voel om hier te wees. En die mense! Opregte verhoudings en ’n gemeenskap waar mense mekaar nog werklik ken, is kosbaar.”

Vicki vertel dat sy ’n normale baba was. Op ses maande het sy ’n gehoortoets geslaag, waarna sy baie siek geword het. Sy het ’n hoë koors ontwikkel en die dokters kon nie die oorsaak vasstel nie.

Op twee jaar het Vicki nog glad nie gepraat nie. Haar ouma het besef Vicki het ’n gehoorprobleem toe sy skrik toe haar ouma aan haar vat nadat sy haar herhaaldelik geroep het. Die dokters het vasgestel dat haar gehoorsenuwee dermate beskadig is dat sy 97% gehoorverlies het.

“Ek kan nie TV kyk, radio luister of op die foon praat nie,” vertel Vicki. Maar dit keer nie hierdie mooi meisie nie. “Dapperheid is nie ’n geskenk nie, dis ’n keuse,” sê sy. “Al kan ek nie hoor nie, kan ek God se stem hoor. Hy het ’n visie vir my lewe.

“Om in Suid-Afrika te bly is nie vir sissies nie, maar ons moet kies om dapper te wees. Die enigste manier waarop ’n mens werklik gelukkig kan wees, is wanneer jy jou fokus op ander mense plaas. Dít is die enigste geluk wat hou.”


'n Spesiale dankie aan Carien Grobler vir die pragtige artikel.

Vicki

No comments: